JOIN OUR MAILING LIST

ASA SA LANDLOOP KAMPIOENSKAPPE 8 SEPTEMBER PORT ELIZABETH 

HS Randburg Atletiek Klub se atlete het baie goed gevaar by hierdie top byeenkoms van die landloop seisoen. ASA en EPA was goed georganiseerd en het 'n reuse byeenkoms van meer as 4000 atlete aangebied in koue en nat toestande. At

lete van al die provinsies het uitsonderlik presteer en dit was werklik 'n positiewe dag op die ASA kalender.

Ons klub is baie trots op Kimberley Swanepoel met haar oorwinning in die D14 4km. Met net 'n halwe km na die wenpaal was Kimberley nog 3e, maar het met uitsonderlike aanmoediging van haar mede CGA atlete versnel en die wedloop met 'n sekonde gewen! Kimberley het ook saam met haar CGA spanmaats 'n silwer in die spankompetisie gewen. Daarby het die volgende atlete van ons klub nog 4 silwer span medaljes verdien: Marco was 11e (3e van sy span), Jolandi was 12e (4e van haar span), Shannon was 14e (3e van haar span) en Rynard was 5e (2e van sy span). Chloe het ook goed gedoen tydens haar 1ste ASA SA's en was 17e (5e van die CGA span). 

WORLD CUP LONDEN 14 EN 15 JULIE 2018

Carina was so bevoorreg om SA vir die eerste keer as 'n senior atleet te verteenwoordig tydens die eerste World Cup wat in Londen plaasgevind het. Die top 8 atletiek lande in die wêreld neem deel en daar moet een atleet van elke land in 'n item wees. Die top 2 atlete in die 1500m in SA was nie beskikbaar vir die byeenkoms nie en Carina het dadelik ingestem om te gaan deelneem toe ASA haar nader. Carina was nie gereed vir die 1500m en het met 2 weke se kennis eintlik net genoeg tyd gehad om die admin van visums en akademie af te handel. Sy het gehoop om beter as die 4:29 te hardloop, maar die wedloop was so vinnig van die begin af, dat dit haar heeltemal benadeel het. Sonder die atleet van China en Jamaica in haar wedloop, moes sy 'n alleenstryd voer tydens die laaste 800m. Sy het egter 3 punte vir die span gemaak en daarmee SA gehelp om algeheel 7e te eindig. Dit was nog 'n geleentheid om nuwe mense te leer ken asook motivering om so vinnig moontlik in te haal by senior atletiek. 

TRICOLOR GAMES ITALIE

Rynard het die Gauteng provinsie verteenwoordig tydens hierdie wonderlike geleentheid. Hy het 'n baie goeie 2e plek verower in 'n tyd van 4:00. Rynard was voor die byeenkoms 

in Engeland saam HS Randburg se akademiese toer. Hy moes heen en weer vlieg tussen SA en Europa en het boonop siek geword. Sy ouers en Randburg het 

alles moontlik gedoen om te verseker dat hy sou kon deelneem. Dankie aan almal. Baie geluk aan Renier van Transvalia wat die wedloop gewen het in 'n ongelooflike 3:55! Renier en Rynard is saam met Mnr Mandla Radebe van CGA op die foto. Dankie ook vir Mandla se hulp om seker te maak dat Rynard kon deelneem aan die aanvanklike uitdunne.

ASA SA JEUG EN JUNIOR KAMPIOENSKAPPE 4-7 APRIL PAARL

Rune de Beer en Rynard Swanepoel verteenwoordig CGA en hardloop uitstekende wedlope. Rune verbeter haar 2000m Hindernis tyd met 25 sekondes en kom algeheel 10e in 'n tyd van 7:54. Rynard hardloop in die 1500m uitdunne 'n 04:03 om te kan kwalifiseer vir die finaal wat net 5 ure later plaasvind. Hy hardloop 'n baie harde wedloop en verbeter sy tyd met 3 sekondes. Rynard was 5e met 'n tyd van 04:00. 


 

SA HOëRSKOLE ATLETIEK 22-24 MAART 2018 POTCHEFSTROOM

Kimberley Swanepoel het 'n 2e plek behaal tydens die Kampioenskappe in die 1500m D15 met 'n tyd van 4:36. Dit is 'n baie goeie prestasie as mens in ag neem dat dit haar 1ste SA's as 'n hoërskool atleet is. Kimberley het in die laerskool vir 4 jaar in 'n ry die SA Skole middelafstand item gewen. Hierdie jaar is die 1ste keer wat sy in 'n hoër ouderdom deelneem en ons is trots op haar plek, maar ook op haar tyd in die 1500m. Kimberley het die Gauteng Skole Kampioenskappe gewen in 'n 4:32!

Rynard Swanepoel het 'n 6e plek behaal in die 800m vir S17 met 'n tyd van 1:56. Rynard moes ook hard werk in 'n baie vinnige uitdun om te kwalifiseer vir die finaal. Sy tyd in die uitdun was ook 1:56. Rynard het as 16jarige reeds sy spoed en krag gewys teen hierdie 0/17 groep wat werklik baie sterk is.

 

 

SA SKOLE LANDLOOP KIMBERLEY 30 SEPTEMBER 2017

Ons is baie trots op Rynard Swanepoel wat 2e was in die seuns 0/15 4km wedloop. Ongelukkig was van sy Gauteng spanmaats laat vir die wedloop en kon hulle nie 'n spanmedalje wen nie. Kimberley en Jolandi het baie goed gehardloop in 'n uiters deurmekaar dogters 0/13 3km wedloop. Kimberley het 2e geeindig nadat sy verkeerd gehardloop het na 1km en toe moes omdraai en almal weer van agter inhaal. Die wedloop moes egter later oorgehardloop word oordat sommige atlete nie die 1ste wedloop voltooi het nie agv die chaos. Kimberley en Jolandi het nie kans gesien nie en het dus nie die 2e wedloop gehardloop nie. Ek wonder weereens of dit sinvol is om aan Skole en Klubs deel te neem. Dit vra net te veel van ons top atlete en agv swak organisasie word daar ekstra druk op hulle geplaas. 

ASA SA'S LANDLOOP POTCHEFSTROOM 9 SEPTEMBER 2017

ASA het 'n baie goeie byeenkoms aangebied en elke wedloop het stiptelik op tyd begin. CGA was ook goed georganiseerd en het baie  mooi na hul atlete gekyk. Die wedlope was ongeloof vol en daar was tussen 80 en 130 atlete in elke wedloop. Die 0/16 en 0/17 atlete wat saam moes hardloop was meer as 160 op die wegspringlyn. Net om die wegspring te oorleef was alreeds 'n kuns. 

Ons atlete het goed gedoen. Al het die individuele medalje ons weereens ontwyk het ons 5 spanmedaljes verower. Ronel se span was 2e, Megan se span 2e, Kimberley se span het gewen, Marco se span was 2e en Helen se span 3e. Ons het ook 2 atlete onder die top 10 gehad, naamlik Kimberley wat 5e en Jolandi 9e in die D13 wedloop was. 

SA HOERSKOOL KAMPIOENSKAPPE 30-31 MAART 2017 DURBAN

Wat 'n belewenis toe Rynard Swanepoel die 1500m S15 wen op SA's. Ons het 'n roomys na die tyd gedeel om dit te vier. Rynard het tot op die einde geveg en naelskraap gewen in 'n mooi tyd van 4:09. Ons is almal baie trots op Rynard.

SA LAERSKOOL KAMPIOENSKAPPE 24 - 25 MAART 2017 POTCHEFSTROOM

Marco Prins het die 1200m S12 wedloop gewen tydens sy eerste SA Atletiek kampioenskappe. Marco het net na die klok gelui het die voortou geneem en niemand het hom weer gevang nie. Sy tyd van 3:36,5 is sy PB! Kimberley Swanepoel het hierna aangetree vir die 1500m D13. Kimberley het met 700m oor in die wedloop die voortou geneem en niemand kon byhou nie. Ook sy moes egter hard werk en 'n PB van 4:45 harldoop om die wedloop te kon wen teen baie sterk atlete. Ek was so trots op hoe hulle die druk van SA's hanteer het en die onmoontlike moontlik gemaak het. Kimberley is nou al 4 jaar die SA Kampioen.

 

ASA SA KAMPIOENSKAPPE PACALSTDORP GEORGE 2016

Die SA Kampioenskappe was die hoogtepunt van die landloop seisoen. Alhoewel ons geen individuele medaljes gewen het nie, het ons atlete 7 spanmedaljes verower (maw hulle was onder die top 4 atlete van CGA wie se spanne plekke behaal het). Rynard en Jolandi het baie goeie 7e plekke gehardloop, Robyn was 8e, Ronel 9e en Marco 10e in hul ouderdomme. Ook Micah wat 16e was het goud saam met haar CGA span verower.

Die res van ons atlete het ook baie goed gevaar. Megan was (18e), Amber (22e), Rune de Beer (27e), Helen (27e), Leandra (31e), Isabella (31e), Daniel (43e) en Rune v Wyk 54e. Die wegspring was 'n kopseer met te veel atlete in sommige wedlope. Dit het sommige atlete benadeel wat agter in die hokke moes staan en dit was 'n reuse frustrasie. Die toeskouers is ook tot 'n baie klein gebied ingeperk en dit het veroorsaak dat ons bitter min van die wedlope kon sien. Dit is 'n pragtige landloop baan wat deur onnodige afskortings versper is.

ASA SA'S SUB-JEUG, JEUG, JUNIOR EN 0/23 KAMPIOENSKAPPE 2016

Carina Viljoen het haar 1500m titel verdedig en het goud verower in die D0/19 item. Sy herstel van 'n seer voet en dit het verbasend goed met haar gegaan. Baie geluk ook aan die volgende atlete van ons oefengroep wat die finaal gehaal het in hul onderskeie items. 

1. Michelle Fouche was 6e in die 400m Hekkies D0/19

2. Rynard Swanepoel was 8e in die 1500m S0/15

3. Daniel Viljoen was 9e in die 1500m S0/17

4. Leandra was 9e in die 3000m D0/19

AFRIKA LANDLOOP KAMPIOENSKAPPE YAOUNDE CAMEROON 12 MAART 2016

SA se 4 spanne het baie goed gevaar en 2 brons spanmedaljes en 2 vierde plekke as span verower. Die junior meisies span was gesamentlik 3e maar is vierde geplaas. Carina was 16e en ons is dankbaar dat dit so goed gegaan het en dat hulle veilig terug is in SA.

 

SA LAERSKOOL KAMPIOENSKAPPE 11-12 MAART 2016 PORT ELIZABETH

Baie geluk aan Kimberley en Corne wat die SA Kampioene in die 1200m D0/12 en S0/11 is. Julle het baie hard gewerk die seisoen en is met goud beloon. Ons is baie trots op julle.

ASA SA LANDLOOP KAMPIOENSKAPPE SATERDAG 12 SEPTEMBER 2015

Middelburg, Mpumalanga was die gasheer vir hierdie jaar se SA’s. Die byeenkoms was baie goed georganiseerd en ons het weereens besef dat dit regtig moeilik is om so ‘n reuse byeenkoms aan te bied. Daar is verskriklik baie atlete wat deelneem. Ons groepie van 13 atlete het ‘n baie suksesvolle dag beleef. Ons het saam 1 individuele medalje en 5 spankompetisie medaljes verower.

Baie geluk aan Carina met haar oorwinning in die Junior meisies wedloop. Sy het baie takties gehardloop en na 4km die krane behoorlik oopgedraai. Carina se span (spanne bestaan uit die eerste 4 van elke provinsie) het ook gewen. Ronel het 14e gekom in die meesters 50+ kategorie en is beloon met ‘n silwer medalje vir die spankompetisie. Jolandi (D0/11) was beslis een van die sterre met ‘n 4e plek en goue span medalje. Shannon (D0/12) het ‘n 10e plek en Rynard (S0/13) het ‘n 6e plek behaal tydens hul eerste SA’s en hul span het ook gewen.

Rune (D0/8)  was 38e uit 104 atlete, Helen (D0/9)  was 16e uit 92 atlete, Marco (S0/10) was 20e uit 129 atlete. Megan (D0/14) was 14e en Rune de Beer (D0/14) was 29e uit 95 atlete. Helen, Marco, Jolandi en Rune de Beer het baie verbeter op laasjaar se prestasies.

Ons het ook 3 individuele atlete ingeskryf wat nie die CGA span gehaal het nie. Die twee boeties, Francois (S0/17) en Hendrik (S0/14) was onderskeidelik 24e en 18e in hul wedlope. Isabella (D0/11) was 58e uit 115 atlete.

Baie dankie aan elke ouer en familielid wat die atlete ondersteun het. Dit was ‘n goeie dag vir ons. 

ASA SA JUNIOR KAMPIOENSKAPPE 9-11 APRIL 2015 BLOEMFONTEIN

Keegan Koegelenberg het die semi-finaal in die 400m gehaal en sy PB gehardloop van 53.28. Hy het die seisoen begin met 'n tyd van 57.54. Larry Lombard het 'n silwer medalje verower in sy 400m hekkies met 'n PB van 51.73. Larry se 4 x 400m aflos span het goud verower. Carina Viljoen het goud verower in die 1500m met 'n tyd van 4.31 en in die 3000m.

 

IAAF WERELD LANDLOOP KAMPIOENSKAPPE 28 MAART 2015 GUIYANG CHINA

Carina het baie goed gevaar en dit was 'n reuse ondervinding. Al het ons gehoop vir 'n 60ste plek, kon sy net 76e kom. Sy het egter haar beste op die dag gedoen en was 3e van die SA span. Ons junior meisie span was 14e, die junior seuns was 12e, die senior meisies was 12e en die senior mans was 9e.  Die baan was baie moeilik, maar van hoogstaande gehalte. Daar was heelwat hindernisse waaroor hulle moes hardloop en skerp draaie wat 'n atleet se spoed die heeltyd gebreek het. Dit was 'n belewenis om die wereld se beste atlete in aksie te sien en oud atlete soos Sonja O'Sullivan en Sebastian Coe in persoon te ontmoet. Baie dankie aan ASA wat dit moontlik gemaak het vir die span van 23 atlete om daar te kon deelneem.

 

 

 

SA LAERSKOOL KAMPIOENSKAPPE 20 EN 21 MAART 2015

Baie geluk aan Rynard en Kimberley Swanepoel met hul goue medaljes in die 1500m en 1200m. Dan het Johne Aucamp haar 5de posisie van laasjaar verbeter met 'n skitterende silwer medalje in die 1500m en Shannon Botha het ook vir 'n brons medalje gesorg in die 1200m. Daar is net 8 lang afstand items op SA's. Ons het 2 van hulle gewen, een silwer en een brons medalje verower uit duisende skole wat verteenwoordig is van dwarsoor die land. Hier is nou vir jou 'n besonderse groepie atlete oppad hoerskool toe!

 

 

 

ASA SA'S LANDLOOP GEORGE 13 SEPTEMBER 2014

ASWD het 'n baie mooi byeenkoms aangebied. Daar was in elke wedloop gemiddeld 100 tot 200 atlete en alles het goed afgeloop. Baie geluk aan Carina wat die 0-19 wedloop gewen het. Sy het hieraan deelgeneem ipv die 0-17 wedloop aangesien ASA 'n besluit geneem het dat daar nie landloop "trials" sal wees vlg jaar nie. Carina is volgende jaar 0-19 en daar is 'n wereld landloop kampioenskappe in China in Maart 2015. Ons wou seker maak sy kry 'n regverdige kans om ingesluit te kan word in daardie span. Ons was benoud oor die 6km ipv 4km wat sy moes hardloop, maar sy het na 3km die voortou geneem en daar gebly. Carina het ook die 0-19 CGA atlete gehelp om die spankompetisie te wen. Daar was net 3 atlete van CGA voordat Carina deel vd 0-19 wedloop geword het. Geluk ook aan Gerhard wat 8e was in die veterane 45-49 kategorie. Hy was die 5e man van CGA en het nie eens die spankompetisie medalje kon inpalm nie, oordat net 4 atlete vd provinsie tel vir die spankompetisie. Jolandi het 'n baie goeie 17e plek behaal en het daarmee 'n silwer medalje vir die spankompetisie gewen. Jana was 22e, Marco was 30e, Rune was 34e, Helen 39e, Daniel was 47e en Isabella was 54e. Daniel en Isabella is ook die oggend voor die wedloop ingesluit by die CGA span. Daniel moes sommer in Carina se frokkie hardloop en Isabella het 'n seuns frokkie erens gekry. Daar was nie klere vir hulle nie. CGA het so 'n klein span gekies dat al die individuele atlete wat opgedaag het ook by die span ingesluit is om ons meer diepte te gee. Dit is baie jammer dat ander atlete wat ook in die span kon wees, hierop uitgemis het.

 

ASA SA KAMPIOENSKAPPE STELLENBOSCH 3-5 APRIL 2014

Ons stap weg met 3 goud en 1 brons medalje. Carina wen beide die 1500 en 3000. Jana wen die 800 vir die 4de jaar in 'n ry. Larry kom 3e in die 400 hekkies. Riaan hardloop sy PB in die 800, maar haal nie die finaal nie. Nicci hardloop ook haar 1ste SA's in die 400 hekkies. Randburg se Anche vaar baie goed in die gewigstoot met 'n goeie 8ste plek.

 

 

 

SA KAMPIOENSKAPPE HOERSKOLE POLOKWANE 27-29 MAART 2014

Welgedaan aan Hoerskool Randburg met sy 4 goue medaljes. Ons is baie trots op ons skool. Franco vd Berg het sy eerste goue medalje in die gewigstoot S0-19 behaal. Vuyo Shongwe was 4e in die verspring en 6e in die driesprong. Die atlete van ons oefengroep wat SA's toe is het almal goud verower.

Jana vd Merwe was eerste in die 800m D-17 met 'n tyd van 2.12. Carina Viljoen was eerste in die 1500m D-17 met 'n tyd van 4.29. Sy was ook 3e in die 3000m met 'n tyd van 10.11. Sy sien uit na Klub SA's hierdie naweek in Stellenbosch om 'n beter tyd te hardloop. Larry was 'n ster en het sy eerste goud op SA's verwerf met 'n eerste plek in die 400m hekkies S0-19 in 'n baie goeie 52.11. Hy was 4e in die 400m met 'n tyd van 47.16 wat bitter goed is vir 'n 0-19 atleet.

 

SA KAMPIOENSKAPPE LAERSKOLE PAARL 21-22 MAART 2014

Ons oefengroepie het 'n baie suksesvolle SA's gehad. Ek is baie dankbaar dat dit so goed met die 4 atlete gegaan het. Hulle is nog bitter jonk, maar het soos professionele atlete gehardloop en hul beste gegee. Ek is sommer baie trots op die 4.

Shannon was 3e D/10 1200m met haar PB van 3.56

Johne was 5e D/11 1200m met haar tyd van 3.51

Kimberley wen die D/10 1200m met haar tyd van 3.59 wat net 3 sekondes stadiger as die SA rekord is

Rynard was 3e S/12 1200m met sy tyd van 3.38 in 'n baie vinnige wedloop.

 

 

JEUG WERELDSPELE ATLETIEK UKRAINE 10-14 JULIE 2013

Dit was 'n ongelooflike oomblik toe bekend gemaak is dat 3 van ons atlete nl. Jana, Carina en Larry gekies is vir die SA span wat Suid-Afrika by hierdie Wereldspele sou verteenwoordig.

Carina was 6e in haar uitdun in die 1500m en is deur na finaal met PB 4.28 in die uitdun. In die finaal was Carina 11e met 'n tyd van 4.30.

Jana het 'n baie vinnige uitdun gehad in die 800m en sy kon net nooit by die bondel hardloop nie. Die besering waarmee sy die laaste paar weke gesukkel het, het daartoe bygedra dat sy nie die spoed gehad het om by te hou nie. Haar tyd was 2.15 en sy het nie deurgedring na die semi-finaal toe nie. Die wenner van Jana se uitdun het in die finaal gewen met 'n ongelooflike tyd van 2.01.

Larry het ook die wenner vd 400mH in sy uitdun gehad. Marvin Williams het die finaal gewen in 50.39. Larry was in baan 8 in sy uitdun en sy tyd van 54.05 was nie goed genoeg om semi-finale toe te gaan nie.

Carina, Jana en Larry het ongelooflike ondervinding opgedoen. Dit was 'n groot voorreg om vir SA deel te neem. Donetsk het die byeenkoms baie goed aangebied. Dit was warm en die taal was moeilik, maar die Ukraine se mense het uit hul pad gegaan om van hierdie byeenkoms 'n groot sukses te maak.

 

 
 
Terug Terug na bo